Kan God vandag nog in die skepping gesien word?
Het ons wetenskap al
so vêr gevorder dat ons alles om ons kan verklaar. Het die misterie
van die skepping verdwyn om plek te maak vir die meganistiese
evolusionêre ontstaansgeskiedenis van die heelal? Ongelukkig is dit
presies wat die sekulêre wetenskap vandag leer. Weinig voorgeskrewe
handboeke aan ons skole en tersiêre inrigtings laat nog enige ruimte vir
'n goddelike skepping van ons heelal en die lewe wat ons ken.
Om hierdie saak te belig sal daar na die ontwikkeling van die mens se
kosmologiese siening gekyk word. Dit is van belang omdat dit daaruit
duidelik sal blyk waarom vandag se mens glo wat hy glo. Ook op die
gebied van die wetenskap is ons toekoms opgesluit in ons verlede. Die
nuutste wetenskaplike bevindings sal dan behandel word om uiteindelik
die vraag te beantwoord of daar nog plek vir 'n skeppende God in die
natuur is.
Indien ons nie positief op hierdie vraag kan antwoord nie, sal geen
redelike mens tog kan glo in 'n God wat Hom met die mens sou wou bemoei
nie. Vir elke christen vandag is dit 'n kritiese vraag om sy eie geloof
te kan uitlewe maar ook om die evangelie op 'n oortuigende wyse aan 'n
ongelowige wêreld uit te dra.
Die geskiedenis van die moderne kosmologie.
Kosmologie is die studie van die heelal as geheel, sy struktuur,
oorsprong en ontwikkeling. Kosmologie het nog altyd die mens se
verbeelding aangegryp. Reeds so lank as 5000 tot 6000 jaar gelede het
van die Chinese, Egiptiese en Mesopotamiese
geskrifte reeds hierdie onderwerp as tema gehad.
Die Chinese het die wêreld gesien as 'n vierkant met China in die
middel. Die sterre was 'n kappie met vier kante met die poolster as die
middelpunt. Die son en maan was gode met sekere ewigheidseienskappe.
In Egipte was die aarde weer beskou as 'n vierkantige fondasie vir
die heelal. 'n Godin se hande en voete het op die vier hoeke van die
aarde gerus, terwyl die son en maan as gode oor haar lyf gegly het. Die
Melkweg was die tweelinggod van die Nylrivier.
Die Mesopotaniërs het die aarde beskryf as 'n vlottende vaartuig op
die "see van die dieptes". Bo die aarde was 'n soliede koepel, oordek
met die waters oor die aarde waardeur daar somtyds water (reën) gesypel
het. Die son, maan en sterre was gode wat die skeppers van die heelal
was.
Wat belangrik is, is dat in al hierdie modelle die heelal gesien was
as begrens in tyd en ruimte. Almal het aanvaar dat daar buite hierdie
heelal nog bestaanreg was en sommige gode dan verantwoordelik sou wees
vir die skepping van die fisiese heelal met sy lewende plante, diere en
die mens self.
In die eeue hierna het in Indië die eerste siening ontstaan wat
radikaal met die voriges verskil het. Hul het wel geglo in die bestaan
van die gode, maar die gode het hul ontstaan gehad na die heelal reeds
gevorm was. Volgens hulle het die heelal deur 'n oneindige aantal
siklusse gegaan. Aan die einde van elke siklus het al die materie "opgelos
in die basiese, rein water van die ewigheid", waaruit alles weer verrys
het. Hierdie eeu oue hipotese is die vader van die moderne model vir 'n
ossilerende heelal - selfs wat die periode van etlike miljarde
van jare betref. (Ross, 1987 : 11)
Die Jains en Mimamsa skole van kosmologie het weer geglo dat die
heelal weer ewig is en onveranderlik. Hierdie teorie het weer die
moderne vaste toestand teorie voorafgegaan.
So het byna alle volke het hul teorieë gehad oor die vorming van
die heelal.
Die Griekse kosmologie
Die eerste wetenskaplike bydrae tot die verstaan van die struktuur
van die heelal het gekom van die Ioniër Thales in die sewende eeu voor
Christus. Hy het opgemerk dat in Griekeland die "Big Dipper" in die Ursa
Major konstellasie nooit onder die horison verdwyn nie, maar wel in
Egipte. Een van sy leerlinge, Anaximander, het hieruit tot die
gevolgtrekking gekom dat die aarde 'n sfeer moet wees wat dryf in 'n
sferiese see van sterre.
Aristarchus het, in die vierde eeu voor Christus, selfs die grootte
en afstande van die son en die maan relatief tot dié van die aarde
bereken. Dit het hy gedoen deur tydens die eerste en die derde kwartier
van die maan die hoek tussen die son, aarde en maan te meet. Ook het hy
gelet op die skaduwee van die aarde op die maan tydens 'n gedeeltelike
maansverduistering. Alhoewel sy meting van die son 20 keer te klein was,
was dit nogtans duidelik dat die son baie groter as die aarde was en dat
die son, en nie die aarde nie, die middelpunt van die heelal moes wees.
Omdat hy weens die oënskynlike bewegingloosheid van die sterre geen
parallaks metings t.o.v. hul kon doen nie, het hy ook besef dat die
sterre ten minste miljoene kilometers vêr moes wees. Deur middel van
hierdie eenvoudige metings het Aristarchus 'n merkwaardige korrekte
model vir die sonnestelsel en die sigbare sterre voorgestel.
In die derde eeu voor Christus het Eratosthenes die relatiewe
afstande omgesit in werklike afstande en groottes. Hy het in 'n geskrif
gemerk dat iemand skryf dat op 21 Junie, die langste dag in die
noordelike halfrond, die son om twaalfuur geen skaduwee in Syene in die
suide van Egipte maak nie. Deur 'n eksperiment het hy gesien dat die son
wel 'n skauwee van omtrent 7 grade op dieselfde tyd van die jaar in
Alexandria gooi. 7 Grade is ongeveer 1/50 van die omtrek van 'n
volledige sirkel. Sou hy dus die afstand tussen Alexandria en Syene meet
kan hy dit met 50 vermenigvuldig om die omtrek van die aarde te kry. Om
die afstand te meet het Erasosthenes iemand gehuur om die afstand af te
tree! Dit was ongeveer 800km. 800 km Vermenigvuldig met 50 gee 40 000 km
vir die omtrek van die aarde. Hierdie omtrek was binne 'n paar persent
korrek!
Plato en Aristotle
'n Nuwe denkrigting het die wetenskaplike basis vir ondersoek
ondergrawe. Plato en ander het in die vierde eeu voor Christus
geredeneer dat die sigbare wêreld van minder belang is en het die
filosofie van beredenering van idees en probleme aangehang. (Vergelyk bv.
Hand 17:21 "Die Atheners in die algemeen en die uitlanders wat daar
gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê
of te hoor nie.") Aristotle het o.a. geredeneer dat enige beweging van
die aarde noodwendig na die middel van die heelal moes wees. Sou dit
gebeur sou ons dit al waargeneem het en daarom, het hy gesê, is dit
duidelik dat die aarde stilstaan.
Die Ortodokse en Roomskatolieke kerk se standpunte
Die Ortodokse en Roomse kerk het geleer dat geloof kennis
voorafgaan en dat hierdie geloof en oortuigings alleen deur bemiddeling
van die kerk tot stand kan kom. Ironies - dit is in
teenstelling met wat die Bybel ons leer. Jesus het bv. self gesê:
"En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan
glo as dit gebeur." (Joh 14 : 29)
Weens die ooreenkoms tussen die kerke se dogma en die standpunte van
die filosowe het die twee betrokke kerke Aristotle se model vir die
heelal aanvaar as kerklike dogma.
Die wetenskaplike kosmologiese fondasie wat deur die Griekse
sterrekundiges gelê is, is byna geheel en al uitgewis deur laasgenoemde
standpunte. Hierdie anti-wetenskaplike houding wat deur Plato en die
Roomse en Ortodokse kerk geskep is, was so oorweldigend dat daar geen
noemenswaardige vordering met enige sterrekundige navorsing gemaak is
tot en met die 15de eeu n.C. nie.
Die hergeboorte van die wetenskap
Teen die 13de eeu n.C. het Moslems die wiskunde vauit Indië na Europa
ingevoer. Dit het ingesluit trigonometrie, algebra en die telwyse vanaf
nul en nie vanaf een nie. Gutenberg vind in 1456 die drukpers uit en
reeds in een generasie word daar nou skielik 40 000 werke gepubliseer.
Hierdie beskibaarheid van literatuur het 'n honger na inligting
gesneller wat vandag nog voortduur.
Nicolas Copernicus (1473 1543) was een van die persone
wat deur hierdie geskrifte beïnvloed is. Hy het sterk die stelsel wat
deur Ptolemy ontwikkel is en waarvolgens die planete en die son om die
aarde in veelvuldige sou sirkels beweeg, betwyfel. Deur die
herontdekking van die werke van die ou Griekse sterrekundiges en deurdat
hy geglo het dat Ptolemy se model onwaardig vir die Skepper sou wees,
het hy voorgestel dat die son die middelpunt van die heelal behoort te
wees. By dit het hy ook, deur verwerking van die beskikbare
sterrekundige data, aangetoon dat 'n planeet se omwentelingspoed toeneem
hoe nader dit aan die son kom.
Copernicus het sy bevindinge te boek gestel ongeveer in 1530. Dit was
in die tyd dat die kerkhervorming begin momentum kry het en weens sy
vrees vir wat die gevolge van die boek mag wees is sy heliosentriese
teorie (dat die son die middelpunt van die heelal is) eers in 1540 na sy
dood gepubliseer.
Copernicus se stelsel kon steeds nie baie akkuraat die bewegings van
die planete voorspel nie, maar waarskynlik weens die elegansie van sy
teorie is dit wyd aanvaar. Ten minste was die son nou gestel as die
middelpunt van die heelal.
Galileo (1564 1642) kan beskou word as die vader van die
eksperimentele wetenskap. Hy het hom die gramskap van die Katolieke kerk
op die hals gehaal deur bewyse van observasies na vore te bring wat
Copernicus se heliosentriese teorie ondersteun het. Wat die kerk die
meeste gegrief het is dat Galileo, as 'n leek op die kerklike terrein,
gedurf het om die kerklike leer in twyfel te trek. Galileo het geglo dat
dat die Bybel korrek en waar is. Sy kritiek was gerig op die manier
waarop die kerk die Bybel geïnterpreteer het. Galileo stel sy standpunt
rondom die verklaring van die Bybel soos volg:
"Die heilige Skrif kan nie fouteer en die bepalings daarin vervat
is absoluut waar en onverbreekbaar. Maar ... sy uitleggers en
verklaarders is skuldig om in vele opsigte te fouteer; en een fout
wat in die besonder gevaarlik sou wees, en wat dan ook gereeld sou
voorkom, is as ons kort duskant die letterlike betekenis van die
woorde sou stop." (Ross, 1989 : 20)
Hier het hy o.a. verwys na Ps 93:1, Ps 104:5 en Prediker 1:4 5 waar
die gedeeltes almal verwys na die onbeweeglikheid van die aarde. Galileo
het aangetoon dat al sou die aarde ook in watter rigting beweeg, vir
iemand met 'n aardsgebonde verwysingsraamwerk die aarde altyd
onbeweeglik sal bly. Hierdie Skrifgedeeltes praat vanuit 'n aardsgebonde
verwysingsraamwerk. Galileo het dit benadruk dat dit essensieel is dat
die verwysingsraamwerk vir enige wetenskaplike ekperiment of eksegese
van enige gedeelte eers bepaal moet word voordat enige interpretasies
gedoen kan word. Ons almal glo bv. vandag dat die aarde om die son
wentel. Tog, as ons stil sit om 'n boek te lees dan sê ons ons sit stil
- ons sit nie teen 30 km per sekonde nie! Hoekom nie? Omdat ons verwysing
die aarde en nie die son is nie!
Galileo se werke oor die heliosentriese heelal is deur die Katolieke
kerk verbied tot 1835 terwyl die kerk hom nie amptelik vergewe het tot
so onlangs as 1981 nie.
Sterrekundige navorsing deur waarneming is hergebore onder die
leiding van Tycho Brahe (1546 - 1601), wat sy hele volwasse
lewe daaraan gewy het om presiese metings te doen van die posisie van
die sterre en die planete. Uit sy metings was dit duidelik dat nié
Ptolemy òf Copernicus se teorië korrek was nie, maar hy kon nie die
probleem self oplos nie. Om hom hierin by te staan het hy o.a. vir
Johannes Kepler (1571 - 1630) as wiskundige gehuur.
Deur gebruik te maak van Tycho se sorgvuldige data het Kepler sy drie
wette oor die beweging van planete uitgewerk. Sy werk, "Astronomia Nova"
word in 1604 geplubliseer en waarin hy sy twee wette rakende die
beweging van planete om die son uiteensit. Hierdie werk was besonder
gevorderd en hy het in een paragraaf byna die wet van wedersydse
aantrekking geformuleer. (Seeds, 1985 : 47) Hierdie wette van Kepler het
wel vir Newton (1642 - 1727) in staat gestel om sy wette van
beweging en swaartekrag te formuleer (Geisler en Anderson, 1987 : 50).
Waarnemings wat hierna op die sterrestelsels gedoen is het die
akkuraatheid van die wette bevestig, maar meer nog, dit het aangetoon
dat die heelal veel veel groter was as wat enige antieke sterrekundige
ooit sou kon droom.
Die opkoms van die
moderne naturalistiese
benadering tot die ontstaan
van die heelal
Die kosmologiese pioniers van die wetenskaplike revolusie
(Copernicus, Galileo, Tycho, Kepler, Newton en andere) was almal
toegewyde mense. Vir hulle was daar geen twyfel dat God nie net die
heelal geskep het nie maar dat Hy dit steeds onderhou. In die middel van
die 17e eeu was dit nie snaaks dat 'n persoon 'n pos as teoloog en as
sterrekundige beklee het nie - veral in die Protestantse
omgewing. In hierdie tyd is egter die eerste saadjies van die
meganistiese evolusie gesaai wat later tot verwydering tussen die kerk
en die wetenskap sou lei.
Een so 'n saadjie was die suggestie van Newton dat die heelal
onbegrens is. Een van sy wette is dat elke partikel in die heelal 'n
basiese aantrekking het tot al die ander. Die vraag was nou: Hoekom
stort die heelal nie onder sy eie aantrekkingskrag inmekaar nie? Sy
voorstel en oplossing hiervoor was dat die heelal oneindig groot moes wees. Newton
self het egter onwrikbaar geglo in die konsep van God soos vervat in die
Judaïstiese en Christelike leer. Hierdie geloof van hom was die bakermat
waarop hy sy hele wetenskaplike ondersoek op gebou het. (Geisler en
Anderson, 1987 : 51)
Die eerste ernstige uitdaging in die Weste tot die konsep van die
goddelike skepping van die heelal het in 1734 gekom van die Sweedse
mistikus, Emanuel Swedenborg. Sy verklaring vir die heelal het berus op
'n suiwere meganistiese evolusie waar sterre o.a. hulleself organiseer
in 'n massiewe wentelende sisteem. (Ross, 1989 : 27)
Immanuel Kant (1724 - 1804) was beïndruk met Newton se
swaartekragwette. Vir hom was dit 'n voorbeeld van 'n universele wet wat
gegeld het vir die hele empériese wêreld. So het dit vir Kant die ideaal
geword om universele wette te ontdek waardeur 'n mens die hele heelal
kon verstaan. (Geisler en Anderson, 1987 : 60) Kant se werk was so wyd
aanvaar dat hy vandag beskou word as die vader van die moderne wetenskap.
In sy boek "Kritiek uit suiwer beredenering" en ander werke ontwikkel
Kant sy teologie. Hy begin eerstens deur alle bestaande bewyse vir die
bestaan van God van die tafel te vee. Dit sluit in die filosofiese
bewyse van bv. Augustinus en Aquinas, maar ook die rasionele bewyse van
Kepler, Newton, Lessing en Herder.
Sy mees direkte stelling is dat kennis slegs verkry kan word deur
deur die menslike sintuie van sig, gehoor, smaak en reuk. Hieruit het hy
dan 'n aantal afleidings gemaak nl.
dat 'n oorsaak nooit uit 'n gevolg bewys kan word nie,
dat die mens geen eie of aangebore idees kan hê nie en
dat geen bestaan of wese buite die dimensies van lengte, wydte,
hoogte of tyd deur die mens ervaar kan word nie. (Ross, 1989 : 32)
Kant het ook alle absolutes verwerp, maar ironies genoeg het hy sy
eie stelling en afleidings as absoluut voorgehou. Kant het enige
bonatuurlike verskynsel onvoorwaardelik verwerp omrede hulle die
moontlikheid insluit om ons grense van beredening te oorskry en daarom
van geen teoretiese of praktiese nut is nie.
Kant het lank gewik en geweeg tussen twee gedagtes van, of die heelal
'n begin het en begrens is en, of die heelal geen begin en geen grense
het nie. Later in sy lewe het hy aanvaar dat die heelal onbegrens is.
Uit dit, en sy ander stellings het hy tot die gevolgtrekking gekom dat God se
bestaan buite die bereik van die mens se kennis lê.
Kant self wou egter nie bekend staan as 'n ateïs nie. Hy het God
gesien as 'n morele gesindheid in die mens wat die basis en
interpreteerder sou wees van alle godsdienste.
Word Kant se stelling van nader beskou is dit duidelik dat hulle
almal berus op die veronderstelling dat, indien God sou bestaan, Hy nie
met die mens kan kommunikeer nie. Hierdie veronderstelling het Kant
nooit verder op uitgebrei nie en vreemd genoeg het baie min mense dit
bevraagteken. Die vraag is dus: Is 'n God wat wys en almagtig genoeg is
om die heelal te kan skep, dan nie by magte om met die mens te kan
kommunikeer nie?
Kant se teologie en kosmologie het tot en met 'n groot gedeelte van
die 20ste eeu die denke van die dag oorheers. Vir die volgende
tweehonderd jaar sou wetenskaplikes die kosmologie suiwer bedryf as 'n
wetenskaplike dissipline met geen teologiese of filosofiese implikasies
nie.
Ontwikkelinge in die meetinstrumente soos die teleskoop het
oënskynlik Kant se gedagtes ondersteun. So ver as wat die mens in die
ruimte kon sien het hy net nog sterrestelsels en galaksies ontdek.
Newton se model vir 'n oneindige heelal het ook oorweldigende
ondersteuning gehad. Newton se wette was bv. so akkuraat dat deur
berekening Neptunes as planeet van ons sonnestelsel in 1846 ontdek is.
Soos wat die bewyse vir 'n oneindige heelal meer geword het, het dit
nou meer as net die sterrekunde sienings beïnvloed. Hierdie
veronderstellings het as basis gedien vir baie van die "ismes" wat
vandag nog sterk staan. Die volgende is maar 'n paar voorbeelde van "ismes"
wat ten volle of gedeeltelik deur Kant se gedagtes beïnvloed is:
Behaviorisme, eksistensialisme,
Freudianisme,
humanisme, liberalisme, Marxisme,
neo Darwinisme, pragmatisme en
relativisme. (Ross, 1989 : 38)
Die impak van Kant se stellings is nou gevoel in elke fase van die
mens se samesyn en lewe.
Die impak op die geologie en die biologie
Aangespoor deur die sukses van Kant se teorië op die sterrekunde het
mense soos James Hutton en Charles Lyell daarna gestreef om soortgelyke
wette te vind wat die oorsprong van die aarde sou kon verklaar. Die
eindresultaat was dat wetenskaplikes gepostuleer het dat die oorsprong
van die aarde deur uniformisme gekom het, en nie deur enige ingrypende
gebeure nie. Daar het egter een area oorgebly waar daar nog geen
natuurlike verklaring was vir die oorsprong daarvan nie nl. die
biologiese lewensvorme. Daar was geglo dat dit net 'n kwessie van tyd
was voordat daar wel vir hierdie probleem 'n oplossing sou kom. Die
oplossing hiervoor het nie gou gekom nie. (Geisler en Anderson, 1987 :
71)
Vir Hutton (1726 - 1797) het 'n naturalistiese houding tot
die wêreld ingesluit 'n geloof in die kontinuïteit van natuurlike
prosesse. Met kontinuïteit het hy bedoel 'n ononderbroke ketting van
fisiese gebeure wat teruggaan tot in die oneindige verlede. Deur te bou
op 'n direkte parallel tussen die reëlmatige beweging van die sterre en
planete het hy sy geologiese prosesse saamgestel. Deur die beginsel van
uniformiteit of reëlmatigheid kon 'n mens die verlede benader met 'n
redelike mate van sekerheid. (Geisler en Anderson, 1987 : 74)
Charles Lyell (1797 - 1875) het voortgebou op die werk van
Hutton. Lyell het ook geglo in die kontinuïteit van die hede na die
verlede maar het dit nie noodwendig gesien as 'n oneindige verlede nie.
Hy het, net soos Hutton, geglo dat 'n Skepper nog steeds al die
natuurwette daar kon stel. Desnieteenstaande die moontlikheid van 'n
moontlike begin vir die wêreld, het hy sterk op sy beginsel vir
kontinuïteit en uniformiteit gestaan.
Frans Bacon het in 1620 voorgestel dat daar 'n primêre bron en
sekondêre bronne vir alle dinge was. Hutton, maar veral Lyell, het ten
volle van hierdie beginsel gebruik gemaak. Sodoende het baie
wetenskaplikes erken dat daar 'n Skepper as primêre bron kon wees, maar
hulle het hul veral bemoei met die sekondêre oorsake aangesien dit
voortgevloei het uit die natuurwette wat daar gestel is. Lyell het dus
in sy studie van die geologie die vraagstuk van die oorspronklike
Skepper vir ander dissiplines gelaat. Hierdie beginsel is later ook in
ander dissiplines toegepas. Dit het ook die voordeel gehad dat dit beide
partye, dié wat glo in 'n Skepper en dié wat geglo het in 'n oneindige
verlede kon akkommodeer. (Geisler en Anderson, 1987 : 78)
Die beginsels wat Lyell gestel het vir die geologie het Charles
Darwin (1809 - 1882) geïmplementeer vir die geskiedenis van
die ontwikkeling van die biologie. Hieruit is die bekende, moderne
evolusieteorie gebore. Darwin het erken dat "ek altyd voel asof die
helfte van my boeke uit die brein van Lyell kom." (Geisler en Anderson,
1987 : 82) Die beginsel van biologiese evolusie is egter baie ouer as
Darwin. Die konsep dat die heelal uit niks geskep is, is bv. heeltemal
afwesig by antieke kosmologiese verhale van die Babiloniers, Grieke,
Egipte en Indië. (Morris, 1963 : 74)
Wat Darwin reg gekry het was om die leer van die biologiese evolusie
kredietwaardigheid te gee deur dit te koppel aan die ontwikkeling op
sterrekundige en geologiese gebiede. Darwin (en ook Alfred Wallace) het
getoon dat die natuurlike beginsel van seleksie, wat waarneembaar is,
verantwoordelik is vir die bestaan van alle spesies. Darwin het
onwrikbaar in sy teorie geglo. Tog het hy erken dat die fyn gegradeerde
ontwikkeling, soos wat sy teorie dit vereis, nie waarneembaar was in die
fossielrekords nie. Die fossielrekords het eerder groot spronge aangedui
maar Darwin het dit toegeskryf aan die onvolledige versameling van
fossielrekords. (Geisler en Anderson, 1987 : 86)
Die wetenskap het dus op hierdie stadium die klem weg geskuif van die
primêre bron van alle dinge na die sekondêre oorsake. Deur die mens se
pre-okkupasie met die sekondêre faktore is die legimiteit van die
primêre bron heeltemal betwyfel. Die klem het dus nou op die skepsel en
die skepping geval en nie meer op die Skepper daarvan nie. Hierdie
standpunt is vandag nog steeds op die voorgrond. Carel Sagan, wat bekend
is vir sy televisiereekse, illustreer dit in sy boek "Kosmos" met sy
heel eerste sin: "Die Kosmos is al wat daar is of was of sal wees." (Sagan,
1984 : 20) Let op dat "Kosmos" met 'n hoofletter gespel is!
Die wetenskap herontdek vir God
Deur die hele 19de eeu was die betroubaarheid van Newton se
meganikawette en Maxwell se vergelykings vir elektromagnetisme so hoog
geag dat wetenskaplikes geglo het dat hulle op alle vlakke van
toepassing sou wees. Die meerderheid wetenskaplikes het gevoel dat al
wat vir hul nageslag oorgebly het was om "die metings tot die volgende
desimale punt te doen". Newton se model vir 'n oneindige heelal was asof
in beton gegiet. Hierdie situasie het egter nie lank geduur nie.
Eerstens het Josef Stefan in 1879 en later Boltzmann onafhanklik van
Stefan gevind dat 'n liggaam hitte teen alle golflengtes uitstraal en
dat dit proporsioneel vermeerder met die vierde mag soos die temperatuur
van die liggaam toeneem. Ook word uitgestraalde hitte in die algemeen
geabsorbeer én uitgestraal deur die oppervlak van enige liggaam. Hierdie
wet van termodinamika stel dus dat enige liggaam die temperatuur van sy
omgewing na 'n tyd sal aanneem en daarna straal dit net soveel energie
uit as wat dit ontvang. 'n Warm strykyster sal dus na gebruik, weer die temperatuur van sy omgewing aanneem en net so sal 'n voorwerp
wat eers kouer as die omgewing was, ook die temperatuur van die omgewing
aanneem.
Met 'n oneindige groot en ou heelal was die vraag nou: Hoekom was die
naghemel dan nie ten volle verlig weens al die sterre nie? Daar moes dus
materie in die heelal wees wat die lig van al die sterre kon absorbeer
en sodoende te verhinder dat die naghemel net so skitterend as die dag
was. Dit kon egter ook nie die antwoord wees nie. Omdat die sterre van
ewigheid af daar was en die heelal oneindig groot was moes al die
materie in die heelal al so verhit gewees het dat dit net so helder soos
die sterre moes gegloei het.
Tweedens het Johann Zöllner in 1871 gedemonstreer dat op enige punt
in 'n oneidige groot heelal die gravitasie potensiaal oneindig groot sou
wees. Hierdie was in direkte kontras met alle waarnemings wat gedoen is.
Die argument het min aandag ontvang maar later is Newton se wette
aangepas deur 'n kosmologiese afstotingsfaktor by te voeg.
Derdens was fisici oortuig dat lig teen 'n konstante spoed relatief
tot 'n eter wat deur die hele heelal strek, beweeg. Michelson en Morley
het in 1887 gepoog om hierdie beginsel te gebruik om die spoed van die
aarde deur die eter te bepaal. Tot hul verbasing kon hul geen beweging
d.m.v. hul eksperiment meet nie. Vir twintig jaar het wetenskaplikes
probeer om die klassieke teorieë aan te pas. Geeneen kon egter
bevredigende antwoorde op die vrae verskaf nie.
Hierdie drie verskillende ontdekkings kon elk op hul eie die model
vir 'n oneindige heelal omvêr werp, maar die emosionele
verbinding aan die basiese beginsels van Kant was so sterk dat niemand
hiervan kennis geneem het nie. (Ross, 1989 : 41)
Albert Einstein het in 1905 egter tog die volgende beginsels aanvaar:
Dat daar geen absolute verwysingsraamwerk in die heelal is om
beweging teen te meet nie en
dat lig altyd teen dieselfde spoed vir enige waarnemer beweeg.
Hieruit het hy sy relatiwiteitsteorie ontwikkel.
Aanvanklik het Einstein se teorie geen erkenning gekry nie. Weerstand
het egter begin verkrummel toe eksperimente en observasies die teorie
bevestig het. In 1915 het Einstein verder gegaan om ook die invloed van
versnelling in te sluit. Met sy algemene relatiwiteitsteorie kon
Einstein die volgende waarneembare effekte voorspel:
Die gravitasiedefleksie van sterrelig deur die son.
Perihelium verskuiwing van 'n liggaam wat tussen die son en die
aarde sou deur beweeg op sy wentelpad.
Die gravitasionele rooi skuif van spektralyne.
In 1919 het Eddington gedurende 'n sonsverduistering getoon dat
sterlig wel deur die son se swaartekrag gebuig word. Hierdie observasie
het verseker dat Einstein skielik wêreldberoemd geword het. Verskeie
ander eksperimente het die teorie se geldigheid tot selfs
beter as een honderdste van 'n persent aangetoon.
Hierdie teorie het egter ook getoon dat die grootte van die heelal
nie oneindig was nie. Verder het die teoretiese model voorsien dat die
heelal besig was om te vergroot wat
òf tot in ewigheid kon voortduur,
òf dit kon al hoe stadiger vergroot tot 'n konstante grootte,
òf dit kon vergroot tot 'n maksimum en dan weer begin terugval op
homself.
Die teologiese implikasie hiervan was dat die heelal welliswaar baie
oud was, maar dat dit tog 'n begin gehad het. Deur terug te gaan op die
spore van die vergelykings van die algemene relatiwiteit kan ons sien
dat die grote heelal gebore is uit een enkele punt!
'n Punt wat die wiskundiges noem 'n singulariteit, 'n punt met geen
grootte. Geen wetenskaplike model, geen toepassing van ons natuurwette kan
bepaal wat voor hierdie singuliere punt gebeur het nie. Die algemene term vir hierdie singulariteit is die
oerknal of "big bang".
Die implikasies hiervan was fenomenaal! Ateïsme, Darwinisme en byna
al die ander "ismes" wat gebou op die foutiewe veronderstelling dat die
heelal onbegrens in tyd en ruimte is. Die heelal hét 'n grens en hét 'n
spesifieke ouderdom. Hierdie singulariteit het ons skielik weer van
aangesig tot aangesig gebring met die grondoorsaak van alles. Skielik
het die ou argument dat elke ding wat bestaan, bestaan omdat daar 'n
oorsaak voor moet wees, en dat ook die heelal 'n begin gehad het en
daarom moes daar 'n oorsaak vir sy ontstaan wees, weer na vore getree.
Selfs Einstein se reaksie het getoon dat hy besef het dat hy moontlik
deur sy werk voor God te staan gekom het. Hy het deur die invoeging van
'n kosmiese afstotingskrag probeer om die vergelykings "reg te stel".
Ander het ook hul deel hiertoe probeer bydra soos Willem de Sitter wat
gepoog het om die model so op te stel dat 'n stabiele heelal verkry kon
word uit die vergelykings. Al hierdie pogings het egter gefaal omdat
hulle meestal meer probleme as oplossings verskaf het.
Verdere ontwikkelinge in die kosmologie het nou vinnig gevolg. Reeds
in 1914 het Vesto Slipher gemeld dat hy gemerk het dat newelvlekke of
nebulae teen 'n hoë spoed weg van ons melkweg beweeg. Edwin Hubble het
homself ten doel gestel om te bepaal waarom hierdie newelvlekke teen so
'n hoë spoed van ons af weg beweeg. Deur middel van verskeie observasies
en met behulp van die reuse 100 duim teleskoop van op Mt Wilson, kon hy
bepaal dat hierdie newelvlekke in werklikheid galaksies, soos ons eie
melkweg, is. Wat meer is, hy het ook aangetoon dat hoe verder die
galaksie van ons is, hoe vinniger beweeg dit vanaf ons. Hierdie
observasie was presies dit wat die eenvoudige vergrotende heelalmodel
voorspel het!
Arthur Eddington en ander het ook nou daarop gewys dat die tweede wet
van termodinamika dit ook vereis het. Die vergrotende heelal is dan ook
die rede waarom ons naghemel nie helderder as die dag is nie. (Die
feit dat die heelal besig was om te vergroot het veroorsaak dat dit
vinniger afgekoel het as wat die uitstraling van die sterre dit kon
verhit.)
So het die klassieke termodinamika, die algemene relatiwiteitsteorie
en die observasies van die sterrekunde saamgespan om te bewys dat die
heelal besig is om uit te dy, dat daar 'n begin moes gewees het en dat
dit dus begrens is.
Hierdie siening van die vergrotende heelal wat ontstaan het uit die
singuliere punt of oerknal (big bang), het nie die meeste wetenskaplikes
gepas nie. Einstein was persoonlik ontstoke oor die implikasie van 'n
begin vir die heelal, Eddigton was ook nie daarmee gelukkig nie.
Einstein het egter in 1931 finaal afstand gedoen van sy kosmologiese
konstante nadat Hubble sy resultate van die rooiskuif van die
newelvlekke gepubliseer het. Einstein het met swarigheid die nodigheid
van 'n begin aanvaar en selfs toegegee dat daar 'n hoër beredeneringsmag
mag wees, maar nooit het hy die beginsel van 'n persoonlike God aanvaar
nie. Sy beswaar hierteen was sy bitterheid teenoor die geestelikes en
die feit dat hy nooit die paradoks van God se alomteenwoordigheid, maar
ook die mens se eie verantwoordelikheid vir sy persoonlike keuses kon
verklaar nie. (Ross, 1989 : 59)
Die huidige stand van die kosmologie
Die oerknalteorie voorsien dat daar nog 'n agtergrondsuitstraling in
die heelal sou wees wat direk afkomstig is van die oorspronklike
ontploffing. Sou 'n mens vêr genoeg in die ruimte in kyk sou hierdie
bestraling van alle kante na ons kom. Weens die rooi skuif van die lig
a.g.v. die vergroting van die heelal (en die stelsels wat weg van mekaar
beweeg) sou hierdie bestraling in die infrarooi en radio spektrrum lê.
Uit die werk van George Gamow, wat hierdie afleiding gemaak het, het
Ralph Alpher en Robert Herman in 1948 bereken dat ons 'n temperatuur van
ongeveer 5 K ( -268°C) sou meet. Op daardie
stadium was daar geen manier om so 'n koue temperatuur te meet nie.
Arno Penzias en Robert Wilson het in 1965 'n ruis in hul mikrogolf
ontvanger ontdek waarvoor hulle geen verklaring kon gee nie.
Terselfdertyd het Robert Dicke gewerk aan die probleem om hierdie
agtergronduitstraling te meet, en sy berekeninge het getoon dat dit wel
meetbaar sou wees. Toe Penzias en Wilson verneem van Dick se werk het
hul gou vasgestel dat die oorsprong vir die ruis wel die
agtergrondsuitstaling van die heelal was. Vir hierdie werk het hul in
1978 die Nobelprys vir fisika ontvang. (Seeds, 1985 : 300) Verdere
metings in ander dele van die spektrum het presies ingepas met wat die
teoretiese model voorspel het. Metings het ook getoon dat die
uitstraling met 'n uitermate groot presiesie, presies dieselfde is vanuit
alle rigtings.
Hierdie ontdekking was, en is steeds, 'n geweldige oortuigende
argument ten gunste van die oerknalmodel.
Die ouderdom van die heelal
Met die oortuigende argumente van die oerknalmodel in gedagte is die
volgende vraag wat 'n mens jou afvra: "Wat is dan die ouderdom van die
heelal?"
Soos die spreekwoordelike laaste spyker in die kis van die argument
van 'n stabiele heelal, het verskeie metodes om die heelal se ouderdom
te meet op dieselfde ouderdom uitgekom. Vir die doel van die argument
sal hier slegs drie meetmetodes aangehaal word. (Ross, 1989 : 93)
Meetmetode Ouderdom
(miljard jaar)
Sferiese bondelsterre 17,0 ± 2,4
Kernkronologie uit supernov17,0 ± 4,0
Hubble se tydkonstante 14,5 ± 5,0
Die skatting vir die heelal se ouderdom in
2010 was 13.7 ± 0.13 miljard jaar.
(http://map.gsfc.nasa.gov/universe/uni_age.html
- NASA beampte: Dr. Edward J. Wollack
2010-07-19)
Die stand van ander kosmologiese modelle
Die twee belangrikste alternatiewe kosmologiese modelle wat vandag
nog in omgang is, is die stabiele model en die ossilerende heelal model.
Weens die oormaat van getuienis van 'n oerknal besef die meeste
sterrekundiges dat die stabiele heelalmodel baie min om die lyf het.
Mense soos Eddington het die bestaande oerknalmodel omvorm deur te
probeer aantoon dat daar moontlik 'n oerknal kon wees maar het dit so
vêr as moontlik in die ewige verlede probeer wegdruk om aan die
konsekwensies daarvan te ontkom. Die motivering vir Eddinton om die
model te ontwikkel was nie op enige waarneming gegrond nie maar sy eie
woorde was: "Filosofies, is die idee van 'n begin in die huidige bestel
van die Natuur vir my weersinwekkend. ... Ek sou daarvan hou om 'n
deeglike skuiwergat te vind." (Ross, 1989 : 66)
Met hierdie modelle moet die argument geld dat die heelal nie ouer as
sy onderskeie dele kan wees nie, maar ook, dat indien hy so oud sou wees,
die verskillende dele tog ook die ouderdom moes weerspieel. Soos reeds
getoon is daar nie enige bewyse van 'n oneindige oue heelal nie.
Baie sterrekundiges ondersteun die ossilerende heelalmodel wat reeds
by die Hindu's voorgekom het. (Carl Sagan, 1984 : 286) Hierdie model
aanvaar die oerknal, maar hulle argumenteer dat daar genoeg materie in
die heelal sou wees sodat die groter gravitasiekrag die uitdeining kan
omkeer. Die heelal sou dan na 'n tyd weer begin om op homself in te val.
Vir die heelal om geslote te wees (weer op homself in te val) moet
daar 'n sekere kritiese massa in die heelal wees. Die eerste observasies
en berekeninge het getoon dat die massa van die heelal by verre nie
genoeg was om die kritiese massa te bereik nie. Gedurende die sestiger
en sewentiger jare is baie pogings aangewend om die "verlore massa" te
soek. Die beste metings wat in 1975 gedoen is het maar slegs 5% van die
kritiese massa aangetoon. Daar is sprake van eksotiese materie wat wel
die massa van die heelal kan opstoot na 10 of selfs 20% toe.
Selfs Peebles, wat 'n groot voorstander van 'n geslote heelal was, erken
nou dat die heelal maar ongeveer 30% van die kritiese massa besit en dat
dit dus 'n oop heelal is. (Ross, 1989 : 103)
Die teenwoordigheid van deuterium in ons oseane en in die ruimte
verleen ook rede om te glo dat die heelal nie geslote is nie. Deuterium
kon slegs gevorm word tydens die begin van die oerknal, en dan ook net
onder toestande wat sou voorkom indien die massa van die heelal minder
as die kritiese was. Hieruit blyk dit dat die massa van die heelal maar
10% van die kritiese massa is. (Seeds, 1985 : 293)
Kom ons aanvaar vir die oomblik dat die heelal wel geslote is en dan
kyk ons na die moontlikheid of die heelal wel na 'n terugval weer kan
ontplof.
Die heelal is die sisteem wat die hoogste entropie het waarvan die
mens bewus is. Entropie is 'n aanduiding van die nie-beskikbaarheid van
'n stelsel se hitte energie vir omsetting na meganiese energie. Omdat so
baie van die heelal se energie omgesit word in 'n vorm wat nie vir werk
geskik is nie, sou die heelal se terugval op homself meer vergelyk kan
word met 'n stuk nat klei wat op 'n mat val as met 'n bal wat sou hop.
Dus sal die heelal met 'n instorting nie weer ontplof en uitdein soos
tans nie, maar sal die energie hoofsaaklik omgesit word in hitte. (Ross, 1989 :
105)
Die mens as middelpunt van die heelal?
Met Newton se oneindige heelalmodel het die mens aanvaar dat hy niks
is nie. Bernard de Fontenelle (1657 - 1757) het geskryf: "Aanskou 'n heelal so onmeetlik dat ek daarin verlore is. Ek weet
nie meer waar ek is nie. Ek is net niks nie. Ons wêreld is
skrikwekkend in sy onbeduidenheid." (Aangehaal Block, 1992 : 1)
Fontenelle se vrees staan direk teenoor Psalm 8: "Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na
hom omsiem? U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese
gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die
werk van u hande," (Ps 8:5 7)
Waarom is die heelal so groot en so oud as wat dit is?
Sou die mens vandag bestaan het indien enige van die eienskappe van die
heelal anders was as wat ons dit ken?
Daar bestaan vier basiese kragte waardeur die heelal opgebou is.
Hulle is:
Die elektromagnetiese krag wat die struktuur en interaksie van
atome
bepaal.
Gravitasiekrag wat verantwoordelik is vir die struktuur van
planete, sterre en galaksies.
Die swak kernkrag wat op kernpartikels oor baie kort afstande
inwerk.
Die sterk kernkrag wat protone in die kerne van atome (wat
normaalweg uit mekaar sou spat) bymekaar hou.
Die balans tussen hierdie kragte is baie fyn ingestel om die heelal
soos ons hom ken saam te stel.
Sou die elektomagnetiese kragte bv. sterker wees sou al die galaksies
bestaan het uit lae massa, rooi warm sterre wat te koel is om lewe te
onderhou. Nog meer, sulke sterre kan nie ontplof as supernovas nie. Deur
supernovas word swaarder elemente soos koolstof vervaardig, wat op sy
beurt weer essensieel is vir die bestaan van lewe. Andersom, sou die
elektromagnetiese kragte swakker wees sou al die sterre bestaan het uit
blou warm sterre wat op hul beurt, weens hul beperkte leeftyd en hoë
temperature, ook nie geskik is vir die onderhouding van lewe nie.
(Block, 1992 : 15)
Die ouderdom van die heelal bepaal in 'n groot mate wat se tipe
sterre daar op daardie tydstip bestaan. Dit het ongeveer 2 miljard jaar
geneem vir die eerste sterre om te vorm. Dit het nog 10 tot 12 miljard
jaar geneem vir die eerste supernovas (sterre wat ontplof) om genoeg
swaar elemente te vervaardig om sterre soos ons eie son en planete te
vorm. Hierna moes die son bv. nog voldoende tyd gegun word om lewe te
kan huisves. Sou die heelal net 'n paar miljard jaar jonger wees sou dit
nie lewe kon huisves nie, sou dit net omtrent 10 miljard jaar ouer wees
sal daar nie meer 'n son tipe ster in die regte plek van 'n galaksie
wees om steeds lewe te akkommodeer nie. Die tydvenster waarin lewe
moontlik is, is dus voorwaar baie klein. (Ross, 1989 : 124)
As ons die ouderdom van die heelal vasgestel het is dit maklik om ook
die grootte daarvan te bepaal. Die heelal het ontstaan uit 'n oerknal.
Die hele heelal was saamgevat in een singuliere punt. Buite hierdie punt
het geen ruimte bestaan nie. Ruimte is 'n element van die heelal en kan
daarom nie op sy eie bestaan nie. Niks kan vinniger beweeg as lig nie.
Soos die lig uitstraal vanaf die oomblik van die oerknal, so het die
heelal ook vergroot. Een jaar na die oerknal was die radius van die
heelal dan ook een ligjaar gewees. Elke jaar wat die heelal ouer word,
word dit ook 'n ligjaar groter in sy radius. Weens die ouderdom van die
heelal kan ons dus ook weet dat die radius van die heelal tussen +-13 miljard ligjaar is. (1 Ligjaar afstand is die afstand wat lig
beweeg in 'n jaar se tyd.)
Met die uitdeining van die heelal is dit ook besig om af te koel.
(Die uitdeining geskied vinniger as wat die hitte uitgestraal word.)
Hierdie proses moes ten minste 13 000 miljoen jaar neem sodat die heelal
genoeg kon afkoel om voorsiening te maak vir die bestaan van lewe. Dus
moet die heelal so groot wees soos wat dit is, net om lewe op die aarde
te kan onderhou! (Block, 1992 : 16)
Hoeveel ander planete bestaan wat moontlik ook lewe kan huisves.
Sagan bereken slegs hoeveel galaksies daar in die heelal is en dan
hoeveel sterre. Hieruit maak hy dan die gevolgtrekking dat die heelal
"oorlopens is van lewe". (Sagan, 1984 : 22)
Kyk 'n mens egter dieper na die saak kom jy gou agter dat nie elke
ster lewe op sy planete, indien hy planete sou hê, sou kon onderhou nie.
Ross toon bv. 'n lys van 20 parameters waaraan 'n planeet moet voldoen
om enigsins lewe te kan huisves. 'n Uittreksel van die parameters is die
volgende:
Sou daar meer as een ster in die planetêre stelsel wees sou die
kragtige eb getye die planete se gang versteur.
Sou die ster te vêr van die kern van sy galaksie wees sou die
swaarder elemente te min wees wees om rotsagtige planete te kon
lewer. Sou die ster weer te na aan die kern van die galaksie wees
sou die bestraling en sterre digtheid weer te hoog wees om lewe te
kon huisves.
Sou die ster se massa groter as die son s'n wees sou die ster te
vinnig uitgebrand het. Met 'n kleiner massa sou die die planeet te
naby aan die ster moes wees met die gevolg dat eb getye weer die
planeet se rotasieperiode sou beïnvloed. Die ultravioletbestraling
sou ook te min wees vir die plante en hul fotosintese.
Sou die afstand van die planeet na die ster te groot wees, sou
die planeet te koud wees vir 'n stabiele watersiklus. Te naby aan
die ster, en die planeet sou weer te warm wees om die watersiklus in
stand te kon hou.
Sou die planeet self te groot wees sou die planeet te veel
ammoniak en metaan behou het. Kleiner, en die planeet sou nie sy
atmosfeer kon behou nie.
Uit die faktore, en ander wat nie bespreek is nie, is daar bereken
dat die kans vir nog 'n planeet soos die aarde maar slegs 1 in 1036 is.
Sou ons, baie optimisties, skat dat daar 109 galaksies is met elk 108
sterre, is daar nog steeds 1019
te min sterre! (Ross, 1989 : 132) Selfs
al sou Block se skatting van 1022 sterre geneem word, is daar net te min
sterre in die hemelruim om te verseker dat daar spontaan nog so 'n
planeet soos die aarde sal wees.
Die wonder van lewe
David Block toon aan dat om een enkele gene te konstrueer 'n
waarskynlikheid van
tussen 1 in 4180 en 1 in 4360 is.
Hierdie ontsaglike klein waarskynlikheid vra 'n aarde wat ordes ouer
as die huidige aarde is om spontaan te kon ontwikkel. John Barrow en
Frank Tipler het bereken dat die totale aantal nukleotiede basiese
kombinasies oor die ganse geskiedenis van die aarde (4,5 miljard jaar)
maar slegs 1047 is. Hierdie is 61 orders te min.
Verder toon hy dat die kans dat die mens se gene spontaan kon
ontwikkel maar tussen
4-180(110 000) = 10-12 000 000 en
4-360(110
000) = 10-24 000 000 is. (Block, 1992 : 22)
Mayr het die volgende hierop te sê:
"Daar het 'n algemene konsensus onder evolusioniste gekom dat die
evolusie van intelligente lewe, vergelykbaar in
informasie ontwikkeling met dié van Homo Sapiens, so onwaarskynlik
is, dat dit onwaarskynlik is dat dit op enige ander planeet in die
ganse sigbare heelal kon gebeur het. Hierdie konsensus is verdedig
deur baie van die voorste evolusioniste soos Dobzhansky, Simpson,
Francois, Ayala et. al. en Myar." (Aangehaal Block, 1992 : 22)
Lewe, die wonder van lewe, hang aan 'n onmoontlike fyn draadjie.
Hierdie draadjie is so fyn dat al sou elke ster in die heelal 'n planeet
hê waarop lewe kan bestaan, dan sou daar steeds nie genoeg sterre wees
om lewe moontlik te maak nie. Liberaal geskat is daar ongeveer 1022
sterre in die heelal. Selfs al sou die kans vir lewe om op 'n planeet
een uit 1030 wees (dit is egter baie minder) is daar maar 1022 moontlike
sterre!
Om te illustreer hoe onwaarskynlik die leer van die evolusie is haal
prof. David Block a tabel van Mayr aan. (Block, 1992 : 24) Die tabel gee
die datums van die oorsprong van lewe op aarde as die ouderdom van die
aarde (4,5 miljard jaar) ingepas sou word in een jaar. Dieselfde tabel
word byna net so gebruik deur Seeds, wat self 'n voorstander van die
evolusie is. (Seeds, 1985 : 422)
Oorsprong van Ekwivalente dag in die jaar.
Aarde 1 Januarie
Lewe (Prokaryotes) 27 Februarie
Eukaryotes 28 Oktober
Chordates 17 November
Verbrates 21 Novemb
Soogdiere 12 Desember
Primates 26 Desember
Antropohides 30 Desember om 01:00
Homonides 31 Desember om 10:00
Homo sapiens 31 Desember om 23:56½
Homo sapiens verskyn dus 3½ min voor die einde van die jaar
op die toneel!)
Ons as mense, die kroon van God se skepping, het skielik, drie en 'n
half minute voor die einde van die "jaar" op die toneel verskyn!
Mayr skryf: "Wat merkwaardig is, is dat daar vir 3 000 miljoen jaar
niks aansienliks betreffende lewe op aarde gebeur het nie. Vanaf die
oorsprong van lewe tot die oorsprong van die eukaryotes het omtrent twee
derdes van die leeftyd van die aarde verbygegaan sonder enige
waarneembare gebeure behalwe vir die diversifikasie binne die
prokaryotes self. ... Indien evolusioniste enigsins iets uit 'n detail
analiese van evolusie geleer het, is dit dat die oorsprong van nuwe lewe
grootliks 'n ingreepgebeurtenis is" (teenoor die algemene siening van
ontwikkeling en seleksie) (Aangehaal Block, 1992 : 24).
Die kans dat 'n mens se gene spontaan kon ontwikkel, tesame met die
kans dat daar nog planete soos die aarde kan wees, laat 'n mens besef
dat dit net nie logies is nie. Enigeen wat dit as vanselfsprekend
aanvaar weier net doodeenvoudig om die feite in die oë te kyk.
Evolusie: Spesifieke bewyse
"Een honderd jaar na die verskyning van Darwin se boek "Origen of
Species", het die teorie van evolusie oënskynlik die dag gewen as 'n
verklaring vir die wêreld van lewe. Vandag word word dit byna
universieel aanvaar deur die opgevoede mens as 'n feit en nie as 'n
teorie nie." (Shute, 1980 : 1) Die meeste teksboeke aanvaar hierdie leer
as vanselfsprekend. Shute het in sy boek "Flaws in the theory of
evolution" 'n stuk of een en twintig stellings gemaak om die
tekortkominge in die teorie uit te wys. Hierdie stellings word aangehaal
sodat die omvang van die tekortkominge en leemtes duidelik sal wees.
Stelling 1. Die laer vier vyfdes van die aarde se kors is leweloos.
(Indien lewe so spontaan ontstaan as wat die leer van evolusie dit wil
hê, moes daar oorvloedige tekens van lewende organismes wat vroeër
bestaan het, gewees het.) Lewe verskyn dan skielik, is onmiddelik oral
oor die aarde, en gou toon dit al die tipes lewe wat ons van weet.
Hierdie is nie die bewyse wat evolusioniste wil sien nie en is dodelik
vir hul aansprake. Hierdie is skepping.
Stelling 2. Die biochemiese waarskynlikheid vir die spontane ontstaan
van lewe is so oneindig klein dat lewe duidelik nie vanself kon begin
het nie. Dit moes geskep gewees het. (Sien ook Block se argument soos
aangehaal.)
Stelling 3. Daar is geen bewyse dat bakteria, fungus, virusse en
ander vergelykbare vorme enigsins verder ontwikkel het sedert lewe begin
het nie, of dat dit tans nog ontwikkel nie. Tog is dit die eenvoudigste
vorm van lewe, die mees maklike om waar te neem en met 'n spoed van
vermenigvuldiging wat selfs die tyd systap, soos wat evolusioniste graag
uitwys. In die mees ideale plek om evolusie waar te neem, is die
verskynsel nog nie gevind nie inteendeel, die bespreking van
hierdie punt word sorgvuldig vermy.
Stelling 4. Die embrio rekapituleer nie in veral plante, parasite,
stationêre lewensvorme, motte en skoenlappers nie. Enige ooreenkoms met
ander embrios is kunsmatig en kru, is nie demonstreerbaar deur
wetenskaplike analise, toon nie enige verwantskappe nie en gevolglik is
die "wet van biogenetika" nou in die algemeen in diskrediet.
Elke embrio begin as een bevrugte sel. Hierdie sel verdeel en op
sekere stadia is die voorkoms van die embrio sodanig dat dit herinner
aan ander, meer eenvoudige organismes of diere. Die punt wat egter
vergeet word is dat elke embrio slegs in staat is om tot sy eiesoortige
tipe te ontwikkel. 'n Mens kan tog nie voorkoms verwar met realiteit
nie. Al sou die embrio op sy pad na volwassenheid na hoeveel ander tipes
lyk, bly dit steeds net homself. Die embrio verander nie in die proses
van die laer vorme van lewe na die hoër vorme van lewe nie. Die basiese
inligting van bv. 'n mens is reeds volledig in die embrio se kromosome
vasgelê!
Stelling 5. Halfontwikkelde organe en strukture is algemeen.
Gewoonlik is hulle nutteloos en dit is ook al baie aangetoon. Tog het
hulle baie keer 'n biochemiese waarde tydens ontwikkeling, en moet hulle
nie gewaardeer word slegs op volwasse anatomiese strukture nie.
Evolusioniste soek egter strukture wat besig is om te ontwikkel,
nie strukture wat skynbaar minder belangrik word nie. Die feit dat nuwe
strukture so skaars is, is fataal vir die evolusieteorie, wat tog in
hoofsaak daaroor gaan dat nuwe strukture in plek moet kom.
Stelling 6. Die kompleksiteit, verskeidenheid en volmaaktheid van
parasitiese aanpassing, veral waar diere en plante interafhanklik van
mekaar is of waar parasite verskeie huishere verlang, ontwyk alle
evolusionêre verduidelikings.
Dit is opmerklik hoeveel verskillende diere en lewensvorme lewe in
assosiasie met ander soorte. Dit wissel bv. van bakteria in die mens se
liggaam tot die gemeenskappe van termiete en miere, die loodsvis wat die
haai begelei tot die renostervoëltjie wat die renoster teen gevaar
waarsku.
In baie van hierdie gevalle kan die een nie sonder die ander bestaan
nie. Hoe kan die evolusie dan sê dat die een lank voor die ander
ontstaan het en dan nog kon oorleef totdat die ander party op die toneel
verskyn het? Dit maak tog net nie sin nie!
Stelling 7. Die lewe van sosiale insekte ontwyk evolusionêre
verduidelikings. Hierdie insekte verskyn skielik, de novo,
kennelik deur skepping.
Geologies is daar geen ontwikkeling waarneembaar met bv. miere en
termiete nie. Baie van hierdie sosiale insekte het uiters ingewikkelde
lewenspatrone wat moeilik deur natuurlike ontwikkeling verklaar kan
word.
Wasman het reeds in 1895 geskat dat daar 1246 verskillende spesies
van miere, 993 van kewers en 184 van ander tipes insekte is wat
tafelgenote van 'n ander spesie is. Hoe word die gelyktydige
ontwikkeling, so skielik deur evolusie verklaar?
Stelling 8. Bloedgroepe is lank gebruik om die verwantskap tussen die
mens en die aap te demonstreer. Dit kan nie gedoen word nie -
net so min as wat bloedgroepe die verwantskap tussen menslike rasse of
selfs aangrensende stamme kan aantoon. Ons het hierdie argument
ontgroei.
Stelling 9. Skoonheid is so algemeen in die wêreld van die lewe, so
kompleks, so deeglik aangepas by die behoefte, dat dit alle evolusionêre
verklarings ontwyk.
Indien die natuurlike wêreld ontwikkel het deur evolusie en uit
basies die protozoansel of virusse, wat tog geen skoonheid kon bevat
weens hule beperkte omvang, hoe verklaar ons dan die voorkoms van
visuele skoonheid? Het dit vanself ontwikkel? Hoe kan die
wydverspreidheid daarvan verklaar word as dit so baie keer oënskynlik
geen doel het nie - behalwe vir die mens (en vir God)?
Stelling 10. Die volmaaktheid van instink, sy vervlegtheid, sy
alomteenwoordige aard, sy kernrol in die bewaring van duisende
lewensvorme, kan nie deur die evolusionis verduidelik word nie. Instink
is waardeloos tensy dit volmaak is, dus kan dit nie stuk, stuk
geselekteer wees nie. Soms kan die instinktiewe proses in verskeie dele
geanaliseer word, maar dit gee ons nog nie 'n leidraad na die
oorsprong van die geheel nie.
Stelling 11. Die probleem van kleur in lewende wesens is een van
uiterste kompleksiteit. Dit ontwyk evolusionêre verduidelikings a.g.v
die kompleksiteit, die verskille tussen geslagte en selfs opeenvolgende
vorms van dieselfde dier, mimiek, en sy volmaaktheid. Ook hier is 'n
halwe volmaaktheid nie volmaaktheid nie.
Stelling 12. Botanici het die grootste probleem van alle
evolusioniste, tensy 'n mens die kundiges in fungus, bakteria, virusse
en parasite apart noem, wat ook ernstige probleme het. Miskien is die
ernstigste probleme van die evolusionêre botanici dié van die
parasitiese plante en insekte, asook vleisetende plante.
Die taak om plante op te deel in verskillende hoofgroepe is 'n
moeilike, selfs onmoontlike taak. Fungus en bakteria het dieselfde
probleem. Verder is daar nog geen bevredigende oorsprong of
verwantskapppe in die groot hoeveelheid fossiele gevind nie. Die eerste
plante in die wêreld het baie keer gelyk presies soos vandag, party
selfs meer kompleks. Geen ontwikkeling word dus waargeneem nie.
Dieselfde geld ook vir die fungus en die aanpassings van plante, veral
tot insekte.
Stelling 13. Die wêreld van lewende wesens bevat soveel duisende van
komplekse aanpassings dat dit die verduidelikings van die evolusioniste
ontwyk. Hulle is die werk van 'n super intelligente en versigtige
Skepper.
Darwin het self die volgende oor die oog te sê gehad: "Om te
veronderstel dat die oog, met al sy onverbeterlike uitvindsels om aan te
pas met sy fokus op verskillende afstande, om verskillende hoeveelhede
lig deur te laat en om te kompenseer vir sferiese en chromatiese
afwykings, gevorm het deur natuurlike seleksie, is, en ek erken dit
ruiterlik, absurd tot in die hoogste graad." Verder sê hy ook: "Die
opvatting dat 'n orgaan, so perfek soos die oog, gevorm kon word uit
natuurlike seleksie, is meer as genoeg om enigeen te verbyster."
Moet nooit dink dat slegs christene "geloof" nodig het nie! (Shute,
1980 : 128)
Stelling 14. Die verskynsel van konvergensie (sameloping) van vorm en
funksie is so wydverspreid in die natuur dat dit lei na 'n ongelooflike
verwarring om die verwantskappe tussen verskillende lewensvorme te
bepaal. Meer nog, die parralelle ontwikkeling van identiese strukture en
biochemiese stelsels in wyd uiteenlopende tipes van wesens beproef die
evolusionis tot die uiterste. Is dit konvergensie, of 'n
skeppende gerigde inset?
Stelling 15. Die antieke geografiese isolasie van diere en plante het
nuwe spesies, klasse en families voortgebring. Dit is duidelik. Maar dit
het nooit meer uiteenlopende tipes voortgebring nie, hoe lank die
isolasie ookal was. Meer nog, evolusioniste kan nie die vreemde
verspreiding van diere en plante genoegsaam verduidelik nie. Soveel nuwe
vorme van lewe is onlangs ontdek dat dit ooglopend is dat die teory (van
evolusie) voorgestel was voordat daar genoeg deurdagte bewyse daarvoor
versamel was.
Stelling 16. Indien evolusie die studie is van die oorsprong van nuwe
spesies, moet die term "spesie" akkuraat gedefinieer word. Dit is nog
nie gedoen nie. Daar is geen groter verwarring in die moderne biologie
as juis om hierdie punt nie.
Stelling 17. In die fossielrekords is daar 'n verrassende gebrek aan
bewyse dat die hoofgroepe van lewe geleidelik uit ander vorme ontwikkel
het. Hulle het skielik op die toneel verskyn, asof deur nuwe skepping.
Stelling 18. Die studie van fossielplante toon nie dat die ouer tipes
eenvoudig was en dat dit mettertyd meer kompleks geraak het nie.
Stelling 19. Volgins die evolusioniste verhinder gapings in die
geologiese rekords hul om te bewys dat moderne diere en plante afstam
van ouer diere en plante deur klein gegradeerde veranderings. Daar is
egter geen teken dat die leemtes te wyte is aan onvolledige kennis van
die rotse nie. Al die geologiesse rekords dui op 'n skielike verskyning
van nuwe spesies, spesies wat dan ook reeds volmaak gevorm is en wat in
baie gevalle vandag nog net so voorkom. Hierdie leemtes blyk eerder om
eie aan die teorie van die evolusie te wees.
Stelling 20. Die genealogiese stamboom van die perd is maar 'n teorie
van verandering binne een familie, maar tog is dit moeilik om te glo as
dit van naderby beskou word. Taksonomie is moeilik, en staan slegs in sy
babaskoene. Ongelukkig funksioneer dit vandag binne 'n teorie wat alle
lewende dinge in klasse wil opneem. Die hele idee om 'n stamboom te
groepeer in enige groepering wyer as net die dierekundige familie, bring
onmiddelik formidabele struikelblokke na vore.
Stelling 21. Daar is nou en was lank 'n groot verskeidenheid van
menslike en antropoïde vorms op die aarde. Redelose tipes van die mens
was baie antiek, maar die mens was baie van hulle tydgenote. Daar is
geen bewyse vir die evolusie van die moderne mens nie. Hy het skielik
omtrent 9000 jaar gelede in die nabye Midde Ooste verskyn. (Shute, 1980)
Dr. Pierre de Villiers ondersteun ook stelling 21 van Shute. Volgens
hom dui al die bewyse daarop dat die sogenoemde aapmense met die
verskyning van die mens van die toneel verdwyn het. Die moontlikheid
bestaan selfs dat hulle a.g.v. die mens verdwyn het.
In aansluiting by stelling 3 van Shute toon De Villiers dat alle
eksperimente met die vrugtevlieg om evolusionêre ontwikkeling aan te dui
misluk het. Die wetenskaplikes het dit wel reg gekry om buitengewone
vorms van vrugtevlieë te teël, maar elke keer as hulle die vlieë sou
toelaat om sonder enige inmenging verder aan te teël, dan het die vorme
terug geval na die oorspronklike vorm toe.
Dieselfde proses is ook met die gewone huishond sigbaar. Deur teling
het mense dit reg gekry om rasse te teël wat wissel van die klein
chi wau wau tot by die groot Deense hond. Verder as dit kon daar nog nie
gevorder word nie. Dit is asof die natuur sy eie limiete het waarbinne
elke ras moet beweeg en waaruit hulle nie kan ontsnap nie.
Opsommend:
Om terug te keer na ons oorspronklike vraag of daar nog 'n plek vir
God in die skepping is, is dit duidelik dat die wetenskap vandag gewis
nie alles kan verklaar nie. Dat hul nog steeds voor die groot misterie
staan dat daar 'n Skepperhand moes gewees het, Iemand wat vandag nog die
ganse heelal onderhou.
Hoe bevestig die wetenskap nie die woorde van die Skrif nie!
"Van die skepping van die wêreld af kan 'n mens duidelik aflei
dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge
is wat 'n mens nie kan sien nie." (Rom 1:20)
Ons kan met oorgawe saam met Johannes sê:
"In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die
Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur
Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder
Hom tot stand gekom nie." (Joh 1:1-3)